’n Stukkie Karoo in die Vaaldriehoek

WG Goosen

Karoosie is ’n splinternuwe blommebesigheid in die Vaaldriehoek en gaan beslis die troubedryf oorneem in die toekoms. Hulle rangskikkings is vars, kreatief en absoluut asemrowend.

Sonja Oosthuizen het in die troubedryf groot geword en het jare se ondervinding in byna elke aspek daarvan. Sy het onlangs besluit om ’n splinternuwe blommebesigheid in die Vaaldriehoek te vestig en ons het bietjie meer gaan uitvind oor Karoosie.

WIE IS KAROOSIE EN WAARIN SPESIALISEER JULLE?

“Bruide en groot wit rokke is al van kindsbeen af deel van my lewe. My ma het trourokke gemaak en blomme, dekor en spyseniering vir troues gedoen. Sy het ook ’n geruime tyd lank vir Werner Dey in Parys gewerk. Ek dink dit was net natuurlik dat bruide en troues my gefassineer het. Ek wou graag van my universiteitsdae af leer blomme doen. Maar in Potchefstroom was daar nie regtig iemand wat klasse aangebied het nie. Ek het maar die heeltyd rond gevra by die plaaslike bloemiste. Op ’n dag het ’n deur oopgegaan. ’n Bloemis het my aangestel om eers net na die winkel om te sien wanneer hy mark toe gaan. Ek moes die winkel oppas, skoonmaak en bestellings neem. Na ’n tydjie het hy my begin leer, eers net die basiese bosse blomme pak, en toe later kleiner rangskikkings ensovoorts. Vandaar het ek my eie besigheid begin, Belle Fleuri, van die huis af begin. Na ’n rukkie het ons ’n perseel gekry waarvandaan ons die blomme, verhurings en trourokke behartig het. Na 3 jaar, het ons toe ’n venue buitekant Potchefstroom gekoop met die naam Around the World. Ek was verantwoordelik vir al die dekor, blomme en koördinering. Ons het ook self die spyseniering gedoen, maar moes ongelukkig verkoop weens my ma se mediese beserings. Ons het toe almal Vanderbijlpark toe getrek. Ek het vir so ’n jaar skool gegee, waarna ek besluit het my passie en liefde lê by blomme doen. Ek wil partytjies hou soos Mrs Dalloway in Virginia Woolf se bekende roman. Ek spesialiseer in blomme vir funksies en troues. Ek help ook graag met die dekor en koördinering en bak ook lekker kolwyntjies.”

WANNEER HET JY KAROOSIE BEGIN EN WAT WAS DIE INSPIRASIE DAAR AGTER?

“My inspirasie… die mooi dinge in die lewe, die kleure om my, daai “magic” wat met ’n troue in die lug is… ’n Blom kan net mooi wees, daar is niks leliks in hom/haar nie. Blomme verskaf oneindige plesier, nie net vir my wat daarmee werk nie, maar ook vir die persoon wat dit ontvang. Die manier wat ’n kliënt of bruid se gesig ophelder as hulle hou van wat hulle sien. Die mooi dinge in die lewe… Die Here wat alles so mooi maak, ten spyte van wat in die wêreld aangaan. Die liefde. Parys in Frankryk. Karoosie sal nou amptelik oop wees vanaf 1 Julie 2015. Ons is besig om ’n perseel in Vanderbijlpark te koop, wat ons wil omskep in ’n klein venue (40 gaste maksimum) wat sal spesialiseer in kombuistees en ooievaarspartytjies. Ek gaan ook ’n studio inrig waar ek met my blomme gaan besig wees. Tot tyd en wyl gaan ek van my huis af werk, want mooi blomme kan enige plek gedoen word. Ek gaan ook later Karoosie uitbrei om te spesialiseer in troumeublement en -dekor.”

HOEKOM DIE NAAM KAROOSIE?

“Ek en my man is bitter lief vir die Karoo. Dit is ons hartsplek waarheen ons gaan om net weer die batterye te herlaai, rustig te word en die wonder van God se handewerk te sien. Ons het ons hart verloor in die Groenfonteinvallei aan die voet van die Swartberge tussen Oudtshoorn en Calitzdorp. Ons is ook in Oktober daar, tussen die Swartberge getroud, tydens ’n baie klein en intieme troue met die lekkerste kos. Ons wil graag eendag in die Karoo gaan bly, veral Groenfontein. Maar totdat dit gebeur, keer niks ons om ’n stukkie van die Karoo in die Vaaldriehoek oop te maak nie.”

VERTEL ONS MEER OOR DIE SPAN AGTER KAROOSIE?

“Ek glo aan persoonlike diens, op hierdie stadium is dit net ek, so ek doen self jou blomme. Ek het wel ’n goeie ondersteuningspan in die vorm van my man, en my pa, ma en sussie. Hulle laai op, laai af, ry rond en help met die kleinste dingetjies.”

WAT IS JOU PLANNE VIR DIE TOEKOMS?

“Ek sal graag wil sien dat Karoosie ’n huishoudelike naam word in die Vaaldriehoek se troubedryf. Ek sien daarna uit om die studio en venue oop te maak en net weer mooi partytjies te hou, en troues mooi te maak!”

HOEKOM MOET KLIËNTE KAROOSIE KIES?

“Kliënte en bruide sal ’n persoonlike diens ontvang, ek glo nie daaraan om te veel werk in te vat vir ’n naweek nie. Ek wil nie daardie persoonlike touch verloor nie. Ek sal hulle bystaan met raad en daad, asof dit weer my eie troue is. Ek glo daaraan, dat wanneer ’n bruid wegstap na haar troue, moet sy voel dat sy meer gekry het as waarvoor sy gehoop, gedroom en betaal het.”

WAT MAAK JOU BESIGHEID ANDERS?

“My passie en my liefde vir dit wat ek doen.”

AS JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE RAAD KAN GEE, WAT SAL DIT WEES?

“Moet jouself nie te veel bekommer oor wat in die mode is nie, dit is jou dag, en jy gaan dit net eenmaal doen, so doen wat jou hart begeer. Jy moet gemaklik voel met jou bloemis. Jy moet hom/haar kan vertrou dat hulle vir jou die beste diens en blomme sal lewer – onthou dit is hulle werk, hulle ken blomme en tegnieke. Kry soveel moontlik idees, die internet wemel daarvan, ek is self ’n Pinterest-baba. Dit sal jou bloemis ’n beter idee gee van die tipe bruid wat jy is en wat jy in gedagte het. Gebruik blomme wat in seisoen is, want dit is beter vir ons plaaslike industrie en ook vir jou begroting. Wees versigtig om nie verlief te raak op blomme wat slegs oorsee beskikbaar is nie. Dit is ook baie belangrik om jou bloemis in te lig oor jou begroting. Sodat sy/hy sover menslik moontlik daarbinne sal bly, om dinge vir julle as paartjie te vergemaklik. En as jou bloemis met die blomme praat, dan weet jy net dis die regte keuse. Ek doen dit met myne – hulle moet soos sterre skitter by ’n troue! Onthou – ’n mens se handewerk praat altyd vir jou waar jy nie self kan nie.”

WATTER TIPE BLOMME EN RANGSKIKKING IS TANS GEWILD?

“Ons beweeg tans weg van die stywe rangskikkings en die een-blommetjie-per-bottel-styl. Rangskikkings is losser en lyk asof dit nou net in die tuin gepluk is. Dit het ook meer groenigheid. Koraal en blush bly gewild, maar met ’n helderder aksentkleur hier en daar.

Pantone is ’n gewilde kleur vir 2015 en Marsala begin ook nou kop uitsteek. Maar weereens, is dit jou dag, so kies en doen waaroor jy droom.”

WAT IS JOU MOTTO?

“Ek wil graag vir bruide en kliënte die beste diens gee wat ek kan. Hulle moet na die tyd voel dat hulle meer gekry het, as waarvoor hulle betaal of voor gehoop het. Om die wêreld ’n mooier plek te maak, een blommetjie op ’n slag.”

Kontak gerus vir Sonja Oosthuizen vir meer inligting by sonja.deetlefs@yahoo.com